Verklaring

Aangaande die Samekomste van die Kerk van Christus en Grendel-Regulasies
Teken NouEnglish

Voorwoord

Dit het sedert 2020 met die wêreldwye COVID-19 grendel-regulasies onder andere toenemend moeiliker geword vir die kerk en samelewing om te onderskei waar die gesag van die Kerk en Staat onderskeidelik begin en eindig.

Die ondergetekendes besef vanuit die oorweldigende wêreldwye getuienis dat die Coronavirus-pandemie ‘n werklikheid is, en dat die pandemie en die wêreld se reaksie daarop verreikende gevolge gehad, en nog steeds het; o.a. verlies aan lewens, inkomste, betrekkings ensovoorts.

Dit is dus nie ons bedoeling om opsweperig, onsimpatiek of beterweterig te wees nie- allermins; die gevolge van die virus is iets wat ons ook self en in ons gemeenskappe voel.

Ons wil met hierdie verklaring ‘n profetiese stem (Spr. 29:18) vanuit die kerk laat hoor sodat die Koningskap van Christus ondubbelsinnig kan skitter. Hy is die ewige Koning en vereis gehoorsaamheid van Sy onderdane – so ook met betrekking tot die samekomste van die kerk.

Ek bevestig die volgende:

Artikel 1
Jesus Christus is uit die dood opgewek en regeer nou as Koning oor alle owerhede, magte en kragte. (Dan. 7:13,14; Matt. 28:18; Ef. 1:20,21; 1 Tim. 6:13-15; Heb. 1:3-4; Open. 7:14).

DAAROM is alle skepsele gehoorsaamheid aan Hom verskuldig ongeag rang, titel of posisie, aangesien daar nie een molekule kan beweeg as Hy dit nie wil nie.

Artikel 2
Jesus Christus se Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie en tog stel Hy owerhede, magte en kragte aan om in hierdie wêreld reg en orde te handhaaf. (Spr. 22:15; Dan. 2:47; Matt. 18:18; Joh. 8:23; 18:36; Rom. 13:1-7; Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 32, 36).

DAAROM onderwerp ek my aan die gesag wat oor my aangestel is, omdat ek weet dat alle gesag van God af kom.

DAAROM erken ek die drie sfere van gesag wat die Here in Sy Woord vasstel: die Kerk, die Gesin, en die Owerheid. Om Sy gesag in die gebiede reg en ordelik uit te oefen, gee die Here Jesus Christus aan die Kerk die “sleutels” (Matt. 18:18), aan die Gesin, die “lat” (Spr. 22:15) en aan die Owerheid die “swaard” (Rom. 13:4).

DAAROM mag ek nie die Kerk, Gesin of Owerheid gehoorsaam, wanneer die Kerk, Gesin of Owerheid van my ongehoorsaamheid aan God vereis nie.

Artikel 3
Met Jesus Christus se menswording het Sy Koninkryk in hierdie wêreld deurgebreek en Hy het dit ook aan die mense geproklameer. (Dan. 7:27; Matt. 4:17; Mark. 1:15; Luk. 8:1; 11:20; Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 30).

DAAROM erken ek dat Christus ons deur Sy Woord en Gees regeer.

DAAROM beywer ek my vir sy koninkryk en sy koninkryksbeginsels soos Christus dit in die Woord uitgestip het.

Artikel 4
Die ewige Koning kan nooit sonder onderdane wees nie en daarom heilig en vergader Hy mense uit elke volk, taal en nasie om Sy Bruid/Liggaam/Kerk in hierdie wêreld te wees. (Deut. 6:6-7; Hand. 2:1; 2:47; 12:12; 20:7; 15:30; Ef. 2; Heb. 10:24, 25; Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 27).

DAAROM weet ek dat Hy Sy kerk teen die woede van die hele wêreld bewaar en Hy versorg Sy kerk met alles wat ons nodig het vir hierdie en die toekomstige lewe.

DAAROM het ek ook ‘n verantwoordelikheid teenoor my kinders om ‘n voorbeeld aan hulle te stel oor wat die Here van Sy kerk verwag, en deur my dade hulle te lei op die regte pad. Ek word immers deur God beveel om die verbondskinders wat Hy aan my toevertrou op te voed deur hulle te alle tye van Sy gebooie te vertel, en hulle daaraan te herinner (Deut. 6:6-7).

Artikel 5
Die Koninkryk van God word in hierdie wêreld sigbaar waar hierdie gemeenskap van heiliges, plaaslik vergader (d.i. die Koninkryk ter plaatse). (Ps. 40:10,11; Hand. 2;42; Heb. 10:25; Heidelbergse Kategismus V&A 23, 54, 103; Kerkorde Art. 7, 68).

DAAROM moet die kerk nie vergeestelik word nie, maar te alle tye (ook in tye van nood), God se Koningskap en Koninkryk aankondig en voortdurend in gehoorsaamheid onder Sy Koningskap leef, daar waar die kerk plaaslik (in tyd en ruimte) vergader word.

DAAROM is dit voordelig dat die kerk so gereeld as moontlik deur die week onderling saamkom en moet ons vir eredienste op die Rusdag van die HERE vergader.

Artikel 6
Jesus Christus alleen regeer die kerk geestelik deur die Woordverkondiging en sakramente, wat deur Sy geroepe dienaars bedien word. (Jes. 49:23; Hand. 2:42; 4:17,19; 17:7; 18:13; 1 Kor. 4:1,2; Titus 1:5,6; Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 30, Kerkorde Art. 1,3).

DAAROM soek ek (juis ook in tye van nood) die Woordverkondiging en sakramente ywerig op.

Artikel 7
Die erediens vind plaas, wanneer die gemeenskap van heiliges saam in ware geloof om die genademiddele vergader om God Drie-Enig in waarheid en liefde plaaslik te aanbid. (Hand. 2:42,47; Hebr. 10:24-26; Heidelbergse Kategismus V&A 55, 103; Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 27-29).

DAAROM moet die gelowiges in tyd en ruimte fisies saamkom in die erediens.

DAAROM kan video-uitsendings of iets dergeliks wat die plaaslike, fisiese eredienste wil vervang onder geen omstandighede gelykgestel word of erken word as ‘n Bybelse erediens nie.

Artikel 8
Die heiliges se liefde vir mekaar, kom veral tot uitdrukking in die samekomste tydens o.a. die samesang, gebede, tugbediening, sakramentsviering en dade van onderlinge meelewing. (Matt. 18:12-18; Hand. 2:42; 12:12; Kol. 3:16; 1 Kor. 11:17-34; Kol 3:16; Heb. 10:24-26).

DAAROM kom ek veral met medegelowiges saam in die erediens om God te aanbid. Veral in tye van nood het ons die gemeenskap van die gelowiges broodnodig.

DAAROM is dit nodig dat ons God openlik aanroep, as getuienis vir die wêreld dat ons hulp nie in onsself nie, maar in ons Hemelse Vader geleë is.

Artikel 9
Die owerhede, magte en kragte van hierdie wêreld regeer nie oor die Koninkryk van God nie en daarom ook nie oor hierdie plaaslike kerk nie. (Dan. 3:16-18, Hand. 2:42; 4:17,19; 17:7; 18:13; Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 30).

DAAROM luister ek, selfs tot die dood toe, na die stem van my Goeie Herder en nie na ander stemme wat Hom en Sy opdragte teengaan nie. As dit die Here se wil is, sal Hy my ook beskerm teen hierdie ongehoorsame owerhede, magte of kragte.

Artikel 10
Ek word deur Christus beveel, om my by die ware kerk te voeg, waar dit ook al gevestig is, selfs al sou enige owerhede, magte of kragte in hierdie wêreld dit verbied. (Ps. 22:23; Hand. 5:29; Ef. 4:12; Heb. 2:12; Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 28).

DAAROM onderskryf ek die eeue-oue belydenis, dat God Sy kinders beveel om “…hulle by dié vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou regerings en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die dood- of lyfstraf oplê. Daarom handel almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God.” (Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 28).

DAAROM verwerp ek elke wet of regulasie wat deur ‘n owerheid gemaak word wat ten doel het om die gereelde samekoms van die kerk te voorkom, of in te perk hetsy by wyse van getalle of andersins. So ook enige besluit van `n Kerkraad wat hom laat voorsê deur die owerheid en nie op Skrifgronde geneem is nie. Saam met die Apostels getuig ek teenoor diegene wat sulke wette maak of die samekomste verbied: Ons moet eerder gehoorsaam wees aan God as aan mense (Hand. 5:29).

Artikel 11
God is onveranderlik, onbegryplik en volkome wys. (Nederlandse Geloofsbelydenis Art. 1; Jes. 40:8; 46:3 – 4; 46:9 – 10; Eks. 3:14; Num. 23:19; Ps. 33:11; Mal. 3:6; Mark. 13:31; Jak. 1:17).

DAAROM sal Hy nie iets van ons vra wat teen sy bevele is nie of uitsonderings maak op sy gebooie nie. Die bedoelinge van mense of regerings, buitengewone omstandighede en die feit dat die wêreld verander, kan nie die bevele van die onveranderlike God beïnvloed nie. God eis gehoorsaamheid aan Hom, al begryp ons dit nie altyd nie. “Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme” (1 Sam. 15: 22 – 23).

Onderteken die Verklaring:

12 + 8 =

Opstellers en aanvanklike ondertekenaars

Ds. G.M. (Marnix) Boersema – Predikant van Gereformeerde Kerk Graaff-Reinet
Br. J. (Jaco) de Beer – Vrye Gereformeerde Kerk, Belville
Br. G. (Gerben) Boersema – Gereformeerde Kerk Graaff Reinet
Br. D.B. (Ben) Groot – Ouderling, Gereformeerde Kerk Bellville
Ds. J.L. (Jan-Louis) Lee – Predikant van Gereformeerde Kerk Brits
Ds. G.D. (Orrie) Oosthuizen – Predikant van Gereformeerde Kerk Vaalharts
Ds. G.P. (Gerhard) van Rhyn – Predikant van Gereformeerde Kerk Komatipoort